Ek is ‘n Suid-Afrikaanse vrou. Ek woon in Kaapstad en skilder Kaapse fynbos. Deur my kuns, verken ek die paralelle tussen die fynbos bioom, ons as mens, die geestelike realm.
Die Anglo-Boereoorlog (of Vryheidsoorlog) was die oorlog tussen die Boererepublieke van die Oranje-Vrystaan en die Zuid-Afrikaansche Republiek aan die een kant, en die Britse Ryk aan die ander kant. Ons ken die stories van die Boereoorlog en die konsentrasiekame vanaf 1899 tot 1902. Die hartseer en uitdagings van die mense wat toe geleef het, is verweef in baie van ons se stories as Suid-Afrikaners.
Ek is genooi deur die Oorlogsmuseum om ‘n kunswerk te skep vir die museum se permanente kunsversameling.
Ek het besluit om die Waboom Protea / Protea Nitida te skilder en dit op te dra aan die vroue en kinders wie gebukkend gegaan het tydens hul tyd in die konsentrasiekampe in die Anglo-Boereoorlog.
Nitida is die Latynse woord vir skyn.
Die Waboom Protea het ‘n lang geskiedenis met Suid Afrikaners. Dit is deel van die ryk fynbos blomme koninkryk en kom voor aan die Suid-kus van ons land. Dit is ‘n groot, sterk Protea spesie met breë, blou-grys blare, indrukwekkende Protea blomme en sterk hout stamme en takke.
Protea Nitida is in ons land se verre verlede gebruik as vuurmaakhout, om meubels te maak, om leer te kleur en as hout vir die maak van wawiele en remblokke vir die ossewaens. Die blare was opgekook saam met suiker en ‘n geroeste spyker en is dan as ink gebruik waarmee ons voorgeslagte kon skryf. Protea Nitida word ook ‘n Suikerbos genoem, wat ons herinner aan die bekende Afrikaanse volksliedjie: “Suikerbos ek wil jou hê”.
Hierdie verbintenis met die Protea Nitida en Suid-Afrikaners, het my verder en dieper laat dink:
Fynbos plante groei in uitdagende omstandighede. Swak grond, sterk winde, skroeiende sonskyn, droogtes en veldbande is ‘n paar van die uitdagings waarteen fynbos te staan kom. Die Protea Nitida is aangepas om hierdie swak toestande die hoof te bied. Só word die sade deur wind versprei nadat dit uitgedroog het op die blomkop. Die blomme, met soet nektar, word deur voëls bestuif. Wanneer ‘n veldbrand die Protea Nitida plant skroei, sal dit weer uitloop vanuit die ondergrondse bol.
Die moeilike omstandighede waarin die Protea Nitida groei, het my laat dink aan die moeilike omstandighede waarin die vroue en kinders tydens die Boere-oorlog in die konsentrasiekampe moes leef. Hul woonplekke en plase is afgebrand. Hulle is weggeneem om in groot groepe in tydelike strukture en tente te woon – dikwels onder haglike omstandighede, met vele uitdagings soos swak sanitasie, beperkte voedsel, siekte, blootgestelling aan uitermatige weersomstandighede – om nie eers te praat van die emosionele trauma nie.
Toe die oorlog be-eindig word, einde Mei 1902, moes hierdie vroue weer hul gebroke lewens hervat.
Die Protea Nitida dra, saam met die vars, nuwe blomme, ook die droë blomkoppe van vorige jare se blom. Dit staan uit soos geraamtes bo die nuwe uitloopsels en blare. Dit herinner my daaraan dat die Waboom Protea, ook sy geskiedenis onthou, soos wat ons as mens, dié moet onthou wat voor ons geleef het. En hulde bring aan hulle.
Soos reën val op die fynbos plante, bring die einde van ‘n moeilike tyd vir Suid-Afrikaners, hoop om aan te gaan. Hoop vir ‘n beter toekoms. Om te blom waar jy geplant is. Om jou lig te laat “Nitida”- skyn!
Hierdie kunswerk is my huldeblyk aan vroue uit ons geskiedenis: ‘n blom vanuit die Kaap.