Magazine article

The Afrikaans magazine, ‘Weg Platteland’, published a short interview about my art in their ‘Tuindagboek’ section for their Autumn 2021 edition. Thank you to Maja Palm who did the interview with me:

Fynbos-inspirasie vir ’n verfkwas

Die Kaapse kunstenaar Hermien van der Merwe bly teen Tafelberg, en elke dag verken sy een van die vele fynbos-voetpaaie wat haar elke seisoen opnuut inspireer.

LINKS Hermien by ’n fynbosskildery in groen en blou. REGS Watsonias teen Tafelberg, geskilder met olieverf

Jy stap graag op die Kaap se fynbosryke bergpaadjies. Hoe ervaar jy die seisoene?

Ek voel die seisoensveranderinge teen my vel en my lyf. Ek beleef dit met my oë en neus. ’n Yskoue bergwind; klam mis; die vars reuk ná ’n reënbui; nuwe lewe in die lente; en die warmgebakte, winderige dae van somer. Die herfstyd is die matigste. Dit is wanneer die suikerkanne uitbars in kleur en die bolplante haastig en liggroen bo die grond uitbeur. Hoe gaan jy te werk as jy fynbos skilder? Ek neem honderde foto’s as ek in die berg stap en gebruik dit as ’n vlugtige verwysing wanneer ek my onderwerp kies. Ek werk vry en op gevoel en laat die vorms en kleure my lei. Die reuk van die olieverf en die diep, ryk kleure daarvan verskaf aan my ure se genot!

Jy gebruik graag groen en blou in jou skilderye…

Groen en blou is die kleure van die Kaap. Die berg is ’n duisend skakerings van groen-gryse en die see van ontelbare blou-groene. Groen is die kleur van nuwe lewe en die boodskap van hoop wat ek deur my kuns wil uitdra. Blou simboliseer vir my diepte en kalmte.

Wat wil jy graag oordra met jou kuns?

Ek probeer ’n gevoel van hoop, vrede en vreugde oordra. Ek soek altyd wat mooi is, selfs binne dít wat lelik is – soos die nuwe groen uitloopsels in ’n swartgebrande fynboslandskap. Terwyl ek skilder, spreek ek ook positiwiteit en seën in my werke, waarmee ek die Skepper van die fynbos wil eer.

Kontak @hermien_art; hermien-art.co.za